Skip to content
Oppiwa

Oppiwa

17 – 19 Maart 2023

Oppiwa-fees kry nuwe gedaante

Dié Weskus-fees is nou soos ’n vet snoek in Julie of ’n bielie-galjoen in Desember, en dis ’n grote wat jy nie durf laat wegkom nie!

Kry al die lekkerste mense in jou lewe bymekaar wat die stuk saam kan insit Jacobsbaai toe, want van 17 tot 19 Maart 2023 gaan ons weer makietie asof daar geen einde is nie.

Covid-19 het ons vir twee jaar daarvan weerhou om só saam te kuier, maar dit het ons ook gedwing om met nuwe oë te kyk en anders oor goed te dink. Daarom het ook die Oppiwa-fees ’n gedaanteverwisseling ondergaan.

Oppiwa is oorspronklik deur lede van die Jacobsbaai-gemeenskap op die been gebring om geld in te samel vir die ontwikkeling van Jacobsbaai as ’n toeristebestemming. Behalwe die publisiteit wat Oppiwa sodoende vir Jacobsbaai gegenereer het, het die fees ’n finansiële bydrae tot Jacobsbaai gelewer vir hierdie doel. Só het die Oppiwa-komitee byvoorbeeld geld bewillig vir die aanbou van ’n wandelpad langs die Jacobsbaai-kuslyn sodat inwoners en besoekers makliker toegang kan hê tot hierdie stuk wonderlike natuurskoon. Die projek word deur die Jacobsbaaise Belastingbetalersvereniging bedryf en finansieel deur Oppiwa ondersteun.

Tydens die vorige feeste het ons op trekkerwaens deur die dorp gery en van huis tot huis gekuier en optredes van ons mees geliefde kunstenaars geniet.

Die keer bied ons egter ’n groter en nóg lekkerder fees aan. Stel jou voor: ’n Feesterrein soos wat jy die dorp inkom waar almal saam kuier, ou bande verstewig en nuwe vriendskappe en herinneringe bou. En dan drie venues waar daar vertonings aangebied sal word met kunstenaars soos Mathys Roets, Danie Niehaus, Koos Kombuis, Nataniël en nog ’n handvol ander. Dis nou behalwe die te ete en te drinke en die tipiese Weskus-gasvryheid wat jou oral sal oorrompel en bekoor. 

As jy net wil kom saam kuier, is jy natuurlik meer as welkom, maar as jy enige van die vertonings wil bywoon, sal jy moet wikkel, want daar is net ‘n beperkte aantal kaartjies beskikbaar. En bespreek julle slaapplek so gou as moontlik!  Die gastehuise het reeds hierdie naweek uitbespreek op enige ander platform, maar Oppiwa se gaste kry voorkeur en kan net hier bespreek.

Hieronder is al die wie, waar, wanneer en hoe. Al wat jy moet doen, is om die aanwysings te volg om jou slaapplek en kaartjies te bespreek, en dan almal bymekaar te maak wat dit saam met jou sal geniet.

Ons kan nie wag om julle met Weskus-gasvryheid te bederf nie.